20 July 2009

“WAT ‘N MAN NODIG HET”

"Daar's hulle", hoor ek die gids fluister, opgewonde dog beheersd. Ek kyk vinnig rond om te sien waar "hulle" is en sien niks. Ek soek bevestiging by Stefan wat saam met my loop, want ons loop nou al vir 'n paar uur en elke nou en dan verwar ons 'n bossie, 'n geluid of geritsel met 'n rooibok. "Ja wragtig daar staan hulle", breek Stefan se stem die oomblik se stilte terwyl hy op een knie gaan sit. Skielik sien ek hulle. Ek voel hoe my asemhaling onmiddelik begin toeneem. Met een beweging haal ek die geweer oor terwyl ek ook op my knie gaan sit. Ek gewaar 'n ordentlike troppie rooibokke seker so ongeveer 100 meter vanaf ons tussen die bosse staan. Hulle het ons definitief nog nie gewaar of geruik nie. Ek lê aan en gebruik die boom se tak as stut. "Nou moet jy konsentreer Montzinger", praat ek met myself. "Hou die geweer stil, wag tot die teiken mooi in visier is, beheer jou asemhaling en trek die sneller. Hoe moeilik kan dit nou wees." Praat ek myself moed in.


Nou sien ek die trop mooi deur die teleskoop. Ek kyk vir 'n ram, maar sien niks. Daar is 'n mooi ooi. Sy staan met haar kop skuins weg van my af. Ek dink by myself: "Ek gaan op jou aanlê". Ek herhaal Stefan se raad van vroeër in die dag: "Wanneer jy 'n bok skiet wat nie mooi in visier is nie, mik dan bietjie meer vorentoe, maar hoofsaaklik steeds in die omgewing van die hart". "Jy kan nie mis nie, hierdie is maklik", motiveer ek myself. Ek bring die geweer stadig in posisie. Die bok is mooi in visier. Die volgende oomblik word ek tot my sinne geroep deur die oorverdowende geluid van die geweer, soos die skoot afgaan. "Is dit raak?", vra ek aan niemand in besonder nie. "Jong Adrian dit het vir my raak geklink", hoor ek Stefan se stem. Die gids is reeds op en begin hardloop in die rigting van die trop. Ek maak die geweer veilig en ons gaan kyk.


Na 'n tydjie se gesoek kry ons die Rooibok lê tussen die bosse. My eerste skoot op 'n rooibok was suksesvol. Die minder lekker deel was die eet van die bok se lewer.


Inleidende paragrawe is 'n uittreksel uit 'n lekker jagnaweek wat ek saam met ouens van die werk beleef het. Vir 'n week in Junie het ek, PJ Vlok, Stefan Swanepoel en Jacques Cornelius weggebreek en besluit om 'n paar bokke te gaan skiet. Een te word met die natuur en om 'n bier te drink om 'n braaivleisvuur onder 'n sterrehemel in die Laeveld. Stefan Badenhorst en Wilhelm Jonker het ons ook vir twee dae van die jag vergesel.









Ons het die Sondagoggend vertrek met PJse vliegtuig (PKW). Dit was maar 'n 6 seater Cessna, maar dit het die werk gedoen. Die vlug was omtrent 4 ure. Na 2 ure het ons pitstop gevat en 'n "koerantwors" (Wors wat jy in koerant braai) gebraai. Hierbo bekyk Stefan en PJ die word om te oordeel of dit gaar is of nie. Dit het die energie vlakke weer opgestoot en voordat die kos behoorlik gesak het was ons alweer in die lug oppad Thabazimbi toe.




Daar aangekom het die res van die week maar redelik dieselfde verloop. In die oggend sewe uur opgestaan, gewere gevat en gaan stap. Teen 11 uur die oggend was ons terug en dan het die manne wat op "kosdiens" was die middagete voorberei. Daarna 'n vinnige middagslapie en teen 3 uur was ons weer in die veld, te voet, om wild te soek. Teen 6 uur die aand was dit al donker en dan het ons maar weer so stuk stuk by die kamp aangekom.



Die aande word afgesluit deur 'n lekker aanddis en paar biere en strafdoppe vir enige misskote deur die dag. Die raakskoot stories word bietjie aangepas om beter te klink en almal gesels lekker. Soms is almal doodstil en dan gesels die vlamme in die agtergrond, die aandgeluide herinner jou heeltyd waar jy werklik is en jy waardeer die nostalgie om deel te wees van so 'n geleentheid. Op sommige aande het PJ en Stefan ons getrakteer met hulle kitaarspeel vernuf en sangtalent. Nie sleg nie. Ek het probeer bydra met my ondervinding wat ek opgetel het by "THE QUEST", maar nie so goed byklank gevind nie.


Ek het self vir die eerste keer in my lewe 'n trekker bestuur en amper die ding afgeskryf. Die lewe op 'n plaas en in die natuur. Lekker! Om deel te wees van die veld vir so 'n kort tydjie is goed vir jou siel. Jy oortuig jouself maklik dat dit is waaroor die lewe gaan. Goeie herinniringe en goeie tye saam met goeie mense. Jy belowe jouself om meer sulke goed te doen. Die duur Mercedes, groot huis, skip met baie geld is vir oomblik in die agtergrond. Wanneer is die volgende trip?, hoor jy jouself maklik vra. Tye soos hierdie is wat 'n man nodig het.