06 January 2010

Vakansie!!!

Dit was 'n dol jaar gewees en die Desembervakansie kon nie vinnig genoeg kom nie!

Eerste aan die beurt was om te kamp by Orania en die Oranjerivier. Ek en Suné het ons tent hier maak staan om 5 nagte hier op die oewer by Aan-die-Oewer te kamp. Dit is die eerste keer dat ons so lank sou kamp, dat ons kan sien wat ons moet aanpas as ons eendag 'n oordentlike kamp by die see wil doen. Die grootste prioriteit was hier om te rus en nuwe krag na die jaar wat verby is. Visvang werk altyd vir my. Die Geelvisse het aanhoudend gebyt en alhoewel hulle maar klein was het ek darem so paar uitgetrek wat darem al begin kleur kry het. Dit was die eerste keer dat ek die grootte van die spesie kon vang.

Die res van die tyd was in beslag geneem deur boeklees en middagslapies onder die gazebo. Jy durf nie in die son gevang word nie, want dit is vrek warm. Al klagte wat ek het teen die oord is dat daar nog nie 'n swembad is nie. As die hitte te erg geword het, het ek sommer in die rivier gespring om vinnig af te koel. Ek het nie te lank gedraai in die water nie, want ek het 'n paar groot likkewane al daar gewaar. Gelukkig lyk hulle net so bang vir my soos ek vir hulle.

Aan-die-Oewer is 'n klein oord, seker net 8 - 10 staanplekke, met lieflike gras en skoon ablusie. Die restaurant en kroeg wat 'n pragtige uitsig het oor die rivier is ook geopen terwyl ons daar was. Suné het haar self gaan bederf by die baie mooi spa wat geensins hoef terug te staan vir enige mededinger in die stad nie. Die beste van die oord was die groot ou yskas/vrieskas wat vir kampeerders beskikbaar is. Dit het ons bas gered. Coleman kan nou maar sê wat hulle wil, maar in die Karoo bly die ys nie geys in hulle Extreme Coolbox nie.
Ons het ook 'n kayak gehuur om die Oranje te gaan verken. Daar is ook toere van die dorp aangebied, maar ons het te warm gekry om die skadu van ons gazebo te verlaat. Die geskiedenis van die dorp is baie intressant, maar sy voorkoms kort dringend aandag. Dit lyk maar armoedig en alles lyk verouderd en bouvallig. Die vakansieoord is die dorp se grootste trekpleiter. Die dorp se bestuur het ook 'n groot Pekaneutplantasie begin, wat 'n inkomste vir die gemeenskap kan genereer, maar ek is nie seker of produksie al moontlik is nie.
Lekker gekamp met lekker weer is ons so met 'n gepakte Mampoer (my wit Corolla) Hennenman toe vir Krismis. 'n Paar dae voor die 25ste daar aangekom is dit sommer dadelik aan die werk om skoon te maak, koekies te bak, tuisgemaakte klappers en tafelversierings, alles gemaak te kry. Daar was klomp familie. Suné se ouma en oupa en tannies van oor die land, my ma en pa en my aanstaande swaer. Dit was sommer 'n bring en braai by mooi gedekte tafels. Lekker gekuier en te veel geëet. Inderdaad 'n Geseënde Kersfees.

Twee dae later pak ons weer vir Mampoer. Volgende bestemming, Allemanskraaldam (of beter bekend sommer as Aldam). Die tent het ons maak staan in rekord tyd. Eers gou gaan afkoel by die swembad voor die hengel weer begin. Izak het vir hom 'n paddle ski gekoop waarmee ons die lyne lekker diep kan inroei tot daar waar die groottes bly. Die dag verloop sonder 'n byt, en dit is net voor ons oppak om tent toe te gaan toe Izak 'n lekker vet karp uittrek. Ek was toe vasbeslote om dievolgende dag sy voorbeeld te volg. Ek en die paddle ski het nie lekker saamgewerk nie. In 'n sterk wind het ek in die middel van die dam afgeval en gespook om die ding weer op sy regte kant te kry en te keer dat die spaan nie sink nie. Na wat gevoel het soos 'n ewigheid het ek weer my voete aan wal gesit. Ek het die roeiery maar vir Izak gelos. Hy het weer
'n lekker groot karp uitgetrek, maar ek het maar beluit om te hou by die gooi manier.

Ek het darem weer 'n nuwe rekord gekry deur my grootste Onderbek te vang. So ver my kennis strek word die visse nie baie groot nie, en moes die ene baie naby aan uitgegroei gewees het. Ons het nie baie byte gekry nie, maar as iets gebyt het, was dit nogal groot. Ek het nog sukses gehad. Ek het 'n baber gevang wat aan tuinslakke gebyt het. My eerste een in jare en weereens my grootste. Om te dink die ou kan nog tot drie keer groter word! Die meneer het 'n lekker geveg opgesit en ek het 10 - 15 minute gevat voordat ons hom in die skepnet gehad het.
As die viswater te warm begin word het, het ons eers gaan swem en supertube gery totdat die ergste hitte van die dag verby is. Suné se ma en pa is huistoe, maar die kinders kon nog 'n aand oorslaap. Ons het lekker gebraai en gekuier daai aand, terwyl ons droom oor ons 4x4's en Conqueror sleepwaens wat ons gaan koop. Die kampatmosfeer was hier baie anders. Hier was seker 'n 100 staanplekke, met kinders wat in die strate op en af jaag met hulle nuwe kersgeskenke wat fietse, elktriese karretjies met liggies in die wiele en Snake boards (tipe van skate boards) insluit. Dit was besig maar 'n ander lekker.
Ons laaste dag het ek weer 'n lekker groot vis gevang. Ek is nie seker van die spesie nie en sal hulp om die knewel te identifiseer baie waardeer.
Wat baie intressant was, was dat die een gebyt en op 2 slakke en 2 stukke gebraaide skaaptjop wat ek gebruik het om die hoek toe te maak, aangesien ons nie nog slakke gehad het nie. Nie gedink daar sal iets van kom nie, maar dit was toe meer effektief as wat ek gedink het.
Hierna was ons Kroonstad toe om oor nuwejaar by my ma-hulle te kuier. Hier was ons weer rustig en het te veel geëet. Nuwejaar het die mense my met hulle klappers wakker geskiet. Dit sal nie weer hierdie jaar gebeur nie. Ons het lekker gekuier maar dit was ook lekker dat ek en Suné die laaste week van die vakansie net by ons huis kan wees.

Ek het al mense hoor se dat hulle moeg is vir vakansie en nie kan wag om weer by die werk te kom nie. Ek het nog nooit so gevoel nie!

No comments: